Dit voel vir my asof self-bejammering in wanhoop kan aard.  Self-bejammering is meermale ‘n tydelike, verbygaande emosie beperk tot ‘n spesifieke gebeurtenis.  Ja, dit kan ook uitbrei.  Soos dit meer algemeen word, soos dit by jou inburger, lyk my word dit wanhoop. 

Tog is daar ander bronne vir wanhoop.  Is dit nie moontlik dat ‘n mens werklik met die lewe kan swaarkry en nie meer oplossings kan vind nie?  Dat mense om jou se troos en hulp al hoe minder effek op jou gemoed het.  Met self-bejammering voel mens soms, Ag nee, man, stop jou nonsins!  Self-bejammering word as oppervlakkig beskou.  As mens in ‘n ander persoon wanhoop bespeur, veral oor ‘n aansienlike tydperk, word dit meer ernstig opgeneem.  Die vraag is:  Is self-bejammering dan die grootste rede vir uiteindelike wanhoop?

Nog ‘n vraag:  wat is my belang hierin? 

Ek sukkel juis met dié twee emosies.  En ek vra myself af, Is dit net nonsins?  Laat ek kortliks my situasie beskryf.  Ek is van die mens wat ek die meeste liefhet deur omstandighede verwyder.  Sy is in ‘n tehuis in Frankryk en ek het die besluit geneem om terug Suid-Afrika toe te kom, hoofsaaklik oor geldsake.  Ek bel haar elke dag, bewus van haar geleidelike agteruitgaan – sy ly aan demensië.  Dit is waarskynlik dat ek haar nooit weer sal sien nie.  Die ander ding is dat ek finansiëel afdraand loop en my vele pogings tot inkomste oor amper 20 maande kom tot niks. 

Ek meen dat elke ander persoon wat wanhoop of self-bejammering beleef, sal ‘n stel redes daarvoor hê.  Ja, daar word gereeld gesê moenie hoop verloor nie.  Dit voel vir my asof dit gewoonlik van mense kom wie se probleme tydelik en maklik oplosbaar is.  Vra ek myself, Wil ek dan nie luister nie?  Is ek net plein koppig?  Is daar  bevrediging om met ‘n slagoffer se hoed rond te loop? 

Iets wat in dié verband ‘n impak op my het, is ‘n vriendin wat ‘n stryd teen terminale kanker voer.  Sy uiter nie oppervlakkige trooswoorde nie;  nog minder hoor sy hulle aan.  Daar is ‘n onbeskryflike innerlike krag in dié mens.  Na nog ‘n groot operasie vermy sy nou vir mense, maar behou kontak met haar mobiele ‘foon.  My eie probleme voel verminder as ek aan haar dink.  Maar ek moet terugkeer, my goed in die oog kyk, weer daaraan dink as ek vanaand gaan slaap, as ek môre-oggend wakker word.  Weer met donker gevoelens rondloop. 

Is wanhoop dan, vir party van ons, onvermydelik? 

©  Willem

www.binnetoe.wordpress.com

Bridgewater, Somerset-Wes

April, 2023

Eerste is my fotografiek. 

Tweede, bron verloor