Tweede in ‘n reeks van twee

Laat my toe, met ‘n oog op ekstase,  om ervarings te deel, my poging om dit te eien en te verstaan.  Toe ek tussen drie en vier jaar oud was, kry my ma vir my by die wasmasjien (wat in daardie dae nog ritme gehad het) waar ek staan en dans.  Dit interesseer my dat ek dit helder kan onthou.  Dit is seker dié dat my ma my in later jare beskryf het as een met ‘n halleluja gesig en ‘n ragtime lyf.  As tiener het ek gewonder hoe dit sal wees as hulle die kerkbanke in die kerk opsy skuif en dans.  Al het ek dit nie destyds so verwoord nie, was dit tog die dans van religieuse ekstase.  Ja, ek weet … hulle kyk my nou sommer skerp skeef aan.

Ek het vir agt jaar van my lewe aan ‘n vrye bewegingsgroep behoort.  Ons speel ‘n groot omvang musiek en beweeg, alleen, sonder enige inhibisies.  Daar is vir my geen twyfel oor die ekstase wat ek daar beleef het nie. 

Ek was ook oor die jare betrokke met groepe wat innerlike werk gedoen het.  Laat ek net sê, ek was nog nooit deel van ‘n kultus nie waar geloof gedwonge word en dit sê ook iets oor dweepsiekte.  In die beste van hierdie ervarings het ek ekstase beleef, dit wat gepaard gaan met eerlike innerlike werk.  My grootste ervaring in hierdie opsig was MKP (Mankind Project), ‘n nie-profyt beweging vir mans om hulle innerlike lewe te verstaan en geestelike krygers te word.  Weereens, met die breë omvang van gelowe wat betrokke was, kon daar geen sprake van ‘n dominerende kultus wees nie.  Hier het ek manlike liefde ervaar, ja-nee, ons moet altyd byvoeg dat dit nie gay was nie.  Sterk, gegrond in innerlike kennis (daar was letterlik dosyne sielkundiges betrokke), kragdadig en roekeloos eerlik.  ‘n Reuse ervaring wat ook vir ekstase oop was.

My reise, in Europa, die Verre Ooste en in Suid-Afrika, het ook oomblikke van diep gelukkigheid en bewondering gehad.  Die wêreld het veel wat aan ekstase grens.

Wat is die praktiese uitwerking van wat ek hier deel?  My huidige omstandige is nie vir my maklik nie.  Daar is dae wat ek aan my gevoelens swaar dra en begin wonder hoe lank ek nog wil leef.  Ek bel Lifeline en kry gewoonlik hulp van ‘n berader.  Van ekstase is daar min …  behalwe … (is dit die redding van die mens … daardie behalwe ?)  as ek by die klavier loop sit en boeghie.  Verlangs, sommer baie ver, is daar ‘n ou wasmasjien wat ‘n onweerstaanbare ritme oopkloof.  En ek dans. 

©  Willem

www.binnetoe.wordpress.com

Bridgewater, Somerset-Wes

Junie, 2023 

My tekeninge, gepubliseer deur RotsWolk-Uitgewers

dans, dans