Ek kyk nou die dag ‘n dokumentêre film oor die geskiedenis van ystye op die planeet.  Daar was ten minste vyf grotes vanaf 2.4 biljoen jaar gelede.  Met die vroeë ystye het die aarde, sê hulle, soos ‘n sneeubal gelyk, met ewenaar-temperature soos ons vandag in die Noord- en Suidpole het.  Daar was yslae in sommige plekke, bv. Noord-Amerika, waar die dikte van die lae meer as ‘n kilometer was.  Wat vir my so treffend in hierdie tsoenami van wetenskaplike inligting was, is die lewe, die eerste vorme daarvan op die planeet, wat onder die yslae aangepas het en voortbestaan het.

 Die ys het geleidelik gesmelt en die oseane daar gelaat en daarin het die lewensvorme verder ontwikkel tot en met hierdie oomblik wat ek hier sit en op my rekenaar tik.  

Wat is die kerngedagte?  Vir my is dit dat die ontstaan van lewe op hierdie planeet gelyktydig ook die ontstaan van die wil tot aanpassing en oorlewing is.  Dit is nou in ons beendere, bloed en vlees.  As ek myself op een of ander manier kneus, word dit beter.  Maar daar is ook die besef dat hierdie ‘immuniteit’ nie perfek is nie en dat siekte, ongelukke en ouderdom die lewe ook tot ‘n einde kan bring.  

Ja, ons bestaan, die wil daartoe, het ‘n lang geskiedenis. 

Ek dra hierdie pos aan CLB op.  Sy het in die afgelope 18 maande ‘n massiewe stryd met kanker gehad – operasies een na die ander, chemiese en radiobehandeling en vragtevol medisyne.  Tydens haar jongste operasie, sê sy my, is sy ná aan die dood gewees, maar haar dierbare arrogansie hou haar daar.  Met alles is sy ‘n besielende voorbeeld van daardie wil tot bestaan wat biljoene jaar gelede begin het.

www.binnetoe.wordpress.com

Bridgewater, Somerset-Wes

April, 2023 

Ek het nie ‘n nota van die dokumentêre films gemaak nie.  Hulle is op You Tube en daar is verdere inligting op Wikipedia. 

Beeld:  ‘n skildery van Paul Klee