Laat my toe om iets persoonliks op hierdie publieke forum te uiter.  Ek meen elke mens het sulke gevoelens en dat ons geregtig is om dit met ander te deel.  My doel is ook om dit te vier.

Ek en my lewensmaat C. is vanaf Oktober, 2010, in ‘n verhouding.  Ons het op die internet ontmoet en die probleem van verskillende lande is gou opgelos.  Ons is altwee afgetree en sy is ouer as ek.  Sy was nie gesond toe ons ontmoet het nie.  In September, 2014, het sy ‘n na-aan-die-dood ervaring gehad.  Dit het my diep geraak.  Na vyf weke in die hospitaal bring hulle haar terug en sy het in hierdie ses jaar geen noodgeval weer beleef nie.

Huidig, word sake al moeiliker vir haar en vir my as haar sieketrooster.  Vanoggend loer ek vroeg in haar kamer en sien dat sy regop in die bed sit, met haar rosekranskrale. (Sy het Katoliek grootgeword.)  Ek weet dat sy bid en ek gaan sit by haar.  Sy praat van teisterende nagmerries en van haar konfrontasie met die gedagte van haar dood.  Hier is groot lyding.  Ek noem die herdenking van die 12de tot die 14de September, 2014, en waarvoor ons moet dankbaar wees.  Ek bring haar ‘n koppie tee en vryf haar rug wat seer word.  Daar is waardering in haar oë.

Ek kan meer sê.  Dié ervaring vanoggend in sy eenvoud was een van die grootste van my lewe.  Vir ‘n verandering het ek my nie na my ontbyt gehaas nie, maar bly sit in die lig van haar bedlamp.   Ek moet vandag ‘n bottel sjampanje êrens kry, blomme, as ek kan.   Ek deel met die leser dat ek vanoggend die Teenwoordigheid van liefde in my diepste beleef het  Hiervoor is ek meer as dankbaar.

 

©  Willem

http://www.binnetoe.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Geskryf 11.09.20.  Geskeduleer vir 2.2.21.

 

My foto’s.  

 

Twee saam