Die kwessie van valse profete is ‘n soort Catch-22:  die persoon wat ons teen valse profete waarsku, is dalk self ‘n valse profeet.  As moderne mense, het ons ‘n ingeboude skerpsinnigheid en ons is, tot ‘n sekere mate, waaksaam krities.  Maar in sekere aspekte, hou ons ons irrasioneel blind en noem dit ‘n sterk geloof.  As dit vir jou werk, werk dit nie vir my nie.

Hierdie gesplete denke –  om krities en irrasioneel te wees  –  is glad nie ‘n seldsame verskynsel nie.  Dit wys ons net hoe verdeeld is ons hier binne.  Ek noem ‘n enkele voorbeeld van ‘n man, ‘n vliegtuigwerkundige, gaaf en intelligent, wat vir my gesê het  –  ons was by Bloubergstrand  –  dat Tafelberg is ses duisend jaar oud.  Dit is wat die Bybel sê en sy geloof is sterk.  Met ander woorde, elke geoloog op aarde is ‘n dwaas; elke historikus, elke sterrekundige … die lys gaan voort.

Ek haas my om te sê, my benadering is om alles in die Bybel, wel, in die lewe self, in verband te sien.  Terwyl ek nou op my benadering is,  –  dit sal vreemd klink  –  wil ek nie hê dat enige mens moet glo wat ek glo nie.  As jy met my idees beïndruk is en jy aanvaar dit net so, is jy nie heeltemal met jouself eerlik nie.  Ek wil net ‘n verwysingspunt wees wat bespreking en debat aanwakker.  Vir die rekord, ek beskou myself as ‘n diep-geestelike mens.  Soos ek voorheen gegrap het, behoort ek aan ‘n eklusiewe eenpersoon-kultus.

Valse profete is vir ons almal in sekere aspekte ‘n gevaar.  Mens kan net gryns oor die duiwelse mag van Jim Jones wat die grootste selfmoordkultus in die lewe geroep het:  Oor die 900 volgelinge het vir “apokaliptiese redes” gif gedrink.  Wat ons glo, behoort, uit watter hoek ookal, ondersoek word.  En dit is nie maklik nie:  daar is oor die 3,000 Christelike bewegings in die wêreld wat ons van weet.  En dan, al die ander gelowe.   Wie is reg?

Hoe werk ek valse profete teë?  Met liefde.  Ek het vir myself die praktiese kriterië van liefde neergeskryf, amper soos Paulus gedoen het.  En sy voorbeeld bly vir my ‘n inspirasie. Tweedens, is genesing vir my ‘n roeping.  Hierdie blog Binnetoe is ‘n voorbeeld daarvan, my poging om by te dra aan genesing  –  eerstens, my eie genesing en tekortkominge, dan, as ek moontlik kan, om by te dra aan die genesingsproses van ander, dié om my en elders.  Die ontwikkeling van insigte is deel hiervan.

Ek is terdeë bewus van die feit dat ek geestelike helde het, in teenstelling met ‘n fanatiese aanbidding van ‘n leier.  Hulle is Sokrates en C. J. Jung.  Ek neem van hulle, en hier en daar van ander, wat vir my prakties werk.  Ek hou van die greep uit Jung se lewe toe hulle hom vra, Glo jy?  Hy sê toe, Nee; ek wéét.

©  Willem

http://www.binnetoe.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Januarie, 2021

 

Beelde

Janus – my tekening

Tafelberg, Geel blou pyle, man tussen blokke, Anton Smit beeldhouwerk – my foto’s

Stoele – bron verloor

 

Kyk ook

Liefde  –  http://www.binnetoe.wordpress.com  26.3.2019