Ek en my lewensmaat het gister ‘n bollemakiese redekawel gehad wat ons tot by die afgrond gebring het.  Teen slaaptyd was ons rustiger maar nie juis versoen nie.  Sy was meer vreedsaam;  met haar siekte vergeet sy gou.  Ek was stil.  Ek deel dié want ek meen dis nie ‘n seldsame verskynsel nie.

Vanoggend was ek vir duistere redes meer rustig.  Ek het op You Tube rondgesoek en op Michel le Grand se The Summer Knows afgekom, die musiek uit die film The Summer of ’42.  Ek sal nie die besonderhede van die verhaal deel nie, maar ek haal aan die finale, hartverskeurende woorde van die film “… and he never saw her again.”  Dit en die musiek ruk my diep en toe ek omkyk, staan my lewensmaat agter my.  Ek spaar die leser wat toe gebeur het.  Dit was net dat die lewe kort is, in ons geval steurend na aan die waarheid en dat genesing ons groot imperatief is.  Maar gister was ons te besig om die argument te wen.

Die woorde het persoonlik geraak.  Die saak word gevergeet en magsug neem oor:  ek sal jou wys wie’s reg;  ek gaan hierdie argument wen.  En hierdie magsug bring nie genesing nie.  As een die argument wen, hoe voel die een wat verloor?  Dié is oorheers en verneder met blywende slegte gevoel, die grondslag vir nog stryery en uiteindelike vervreemding..  Argument is verleidend.  Vir die korttermyn voel ek lekker want ek is reg.

Maar as ek die wennery verbykyk, die verhouding eerbiedig, langtermyn dink, dan word die saak van die twis kleiner.  Genesing werk in twee rigtings;  die wennery werk in een.  Die antwoord, lyk dit my, is om saam gemene terrein te vind en van daar af die verskille op te los.  Dit is ‘n uitdaging, dié genesing.  En elke keer wat die redekawel gebeur, sien ek uiteindelik hoe kleinlik die wen van ‘n argument eintlik is.

©  Willem

http://www.binnetoe.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Januarie, 2021 (geskryf September 2020)  

My tekeninge