Ons ervaar hulle heen en weer – self-vertroue en arrogansie.  Soms lyk arrogansie soos self-vertroue, ‘n soort masker, maar moenie ‘n fout maak nie.  Hulle is baie anders, in hulle oorsprong en in die uitwerking wat hulle het.

Ek meen dat self-vertroue in die oeroorsprong uit liefde kom, ‘n liefde vir die self, ‘n gehalte verhouding.  Die liefde het geduld met die self,  veral as foute gemaak word.  Die liefde kom van die foute terug om dié keer suksesvol te wees.  Daardie foute was net trappe na ‘n beter lewe.  Daar word nie voor moeilikhede gevlug nie;  hulle is uitdagings wat jy kan hanteer.  ‘n Mens met self-vertroue glo in  haar/homself in die wydste omvang van situasies, bekende terrein of onbekende.  So ‘n persoon, kan mens sien, het ‘n vrede in hulle wat hulle bystaan.  Hulle voel nie innerlik gejaag nie.

Die oeremosie

Die arrogante mens wil voorkom dat hy/sy self-vertroue het.  Ek doen alles reg.  Wie ek? Foute maak?  En dit sal nooit erken word nie.  Mens kan gou die masker agterkom.  Die bravade is voor op die wa.  ‘n Arrogante mens, sien jy gou, is nie buigsaam nie en pas moeilik aan.  Hoe durf jy my bevraagteken?  Uiteindelik kom arrogansie uit die oeremosie vrees.

Wie ek? Ek skrik vir niks

Ons is op ‘n smal rotslys en soms trap ons in die afgrond af.  Arrogansie is veral te siene in ‘n geredekawel.  Maar ek weet ook van politici wat uiters arrogant is.  Daar is tog iets wat ons kan doen al is dit moeilik.  Dit is om bewus te wees watter van die twee ons betree.  Om bewus te wees wat die eienskappe van die twee is en hoe hulle voorkom.  Om bewus te wees van die oeremosie vrees en hoe dit ons laat optree.  En dit is moontlik.  Soos die vorige Amerikaanse president gesê het, ‘n man wat vir my die toonbeeld van self-vertroue is, Ja, ons kan.

 

©  Willem

http://www.binnetoe.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Desember, 2020

 

Beelde

Bronne van beelde verloor

My tekening