Dié van ons  wat glo dat die geluk moontlik is en wat voel ek is nog nie daar nie, kan oorweeg of dit dalk iets met die omvang van ons lewensdoele te doen het.

Ek tref ‘n vergelyking tussen twee mense en hulle lewensdoele.  Hulle was tydgenote.  Die vergelyking is dalk onregverdig.  Die leser kan besluit.  Die een van Niccolo Machiavelli (1469-1527), ‘n politiese teoris;  die ander, Leonardo da Vinci (1452-1519).  Om Da Vinci ‘n kunstenaar te noem, is om die verbysterende lys van wat hy bereik het, mis te kyk.  Hy is bekend vir sy tekeninge  –  bloudrukke van masjienerie eeue hulle tyd vooruit;  anatomiese tekeninge sonder weerga tot vandag; onvergeetlike karakterstudies.   Sy Mona Lisa is die welbekendste portret in die wêreld;  sy Laaste Avondmaal is die mees geproduseerde  beeld van ‘n gewyde toneel.  Die lys gaan voort.

Machiavelli

Machiavelli word nie vir sy komedies, gedigte en liede onthou nie.  Dit is sy politiese traktaat Die Prins (1513) wat die spoor trap.  Sommiges voel dat hierdie skrywe is ‘n beskrywing van “die bose wyse wat bose leiers gebruik;  ander lees dit as aanmoediging vir diktators om hulle mag te behou.”  Kortom gaan dit oor mag.

Da Vinci

Da Vinci het “onverkwikbare nuuskierigheid” en “hartstogtelik skeppende verbeelding”.  Machiavelli stel in mag belang.  Da Vinci omhels onvoorwaardelik die lewe en is oop vir moontlikhede wat nog nooit oorweeg is nie.  Maciavelli stel in mag belang.  Uit vele uiteenlopende rigtings, verryk Da Vinci se nalating vir die mensdom.  Machiavelli se nalating gaan oor mag.

Die obsessie met mag, sou ek sê, het sy oorsprong in vrees, die oeremosie in die baarmoeder.  Skepping het sy oorsprong in liefde, die ander oeremosie in die baarmoeder.

Dit is dié twee teëpole waartussen ons kies as ons ons lewens bewustelik wil voer, met ‘n oog op die geluk.

©  Willem

http://www.binnetoe.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Desember, 2020

 

Bronne

Wikipedia:  Niccolo Machiavelli, Leonardo da Vinci

 

Beelde

Wikipedia

Vitruwiese man – pngitem.com