Oor die nasionale televisie kanale word Frankryk dringend versoek om ‘n vlugtende jong moeder en haar eenjarige dogtertjie te rapporteer.  Mense vind dit vreemd  –  dié ma is mos lief vir haar kind.  Maar die polisie hét rede en die wêreld is geskok toe die ma wel opgespoor is, met die vermoorde kind.

Af en toe hoor ons weer van afgryslike dade, enkel of massa, wat plaasvind.  En daar is ‘n standaard reaksie – dié mens is mal, ‘n siening wat verdere bespreking en insigte tot ‘n einde bring.  Daar word gesê – en dit is moeilik om aan te hoor – dat geen mens mal gebore word nie.  Vertraag, ja, maar nie kranksinnig nie, ‘n stelling wat oor die algemeen waar is.  Wat het dan in die geval van hierdie jong moeder gebeur?  Ons kan dit oor elke afskuwelike daad vra.

Ek het nie die antwoord nie, maar ek meen ek kan ‘n bydra maak.  Alle dade begin met ons gevoelens en ja, ons regverdig dit, voer dit verder, met verstandelike motivering of gedagtes.  Maar die bron is gevoel.  Dit is vir my, na ‘n leeftyd in skole, steeds steurend hoe min ons aan dié feit bestee, hoe min deurdagte erkenning ons aan die mens se gevoelslewe gee.

Ek glo dat met elke massamoordernaar, dié jong moeder, en andere, is daar ‘n lewe van verwronge gevoelens waarmee niemand werklik gehelp het nie, nie die ouers, gesin, familie, opvoeders, nie.  Hoe kan ‘n tienjarige seun wat erg geboelie is, sy woede, sy vernedering, sy wraaksug hanteer?  Hoe hanteer hierdie jong moeder wat blykbaar deur een man na die ander misbruik is, haar haat, haar vrees, haar selfbeeld.  En om dit keer op keer te stoor, is om ‘n angswekkende gedrog in jou geleidelik te laat ontwaak.

In ons opvoeding in skole weet ons meer van die agterpoot van ‘n vrugvlieg as wat in ons harte aangaan.  Daar is nie vir my ‘n hoër kennis as selfkennis nie en dit begin met die emosies.  Nou voel ek die bliksem in, nou voel ek hulpeloos en verlore, nou voel ek … die lys het nie einde nie.  Wat doen ons daaraan afgesien van « ag, dis maar net ons gevoelens » ?

En daar is iets wat ons kan doen.  Laat daardie gelaat van die dogtertjie by ons spook todat ons onsself in die saak opvoed tesame met ons kinders.

© Willem

www.binnetoe.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Februarie, 2020

 

Beelde

Abstraksies deur Popova