“Jy dink te veel,” sê Zorba die Griek vir die introverte Engelsman.  “Slim mense en kruideniere wéég alles.”  Maar, vra ek, hoe kom ons deur die lewe sonder om ons komplekse aard te verstaan?  En veral, as ons onbewustheid pyn veroorsaak?

Laat my toe om te veel te dink met ‘n gevalstudie.   A is die suster van B.  Ek het verlof van B om sy storie hier te vertel.  A is ‘n hele paar jaar ouer as B, die seun in hierdie gesin.  Was hy, na sy geboorte, met groter respek behandel?  Was daar meer aanmoediging vir hom van Ma en Pa?  Meer liefde?

Ons sal nie kan weet nie.  Wat seker is, is die persepsies oor die saak, van A se kant  —  ons sien nie die wêreld soos dit is nie, maar hoe ons is.  A het as jong vrou wonderlike potensiaal getoon.  Dit het sy opsy gestoot vir die huwelik en om “’n goeie vrou” te wees.  Na die geboorte van haar seun, het sy nie eintlik teruggekeer na die belofte wat haar lewe eers getoon het nie.  Daar was ook ernstige probleme in haar huwelik, wat, meen B, die laaste van haar selfbeeld vergruis het.

B het intussen hier en daar suksesse met sy ondernemings gehad, interessante dinge gedoen.  Hy het dit altyd met A gedeel, maar, in terugskoue, onthou hy dat daar van haar kant maar min entoesiasme was, min erkenning of terugvoer.  B se analise oor A se onbewustelike gevoelsproses lyk so:  Sien, in my diepste weet ek dat Ma meer van jou hou en nou hou die lewe self meer van jou.  Ek sal uiterlik vriendelik wees, maar binne my sal my onmin vir jou toeneem.

Die uiteinde van die storie, die rede waarom B met my kom praat het, is ‘n bitter familietwis.  Die redes hiervoor van A se kant af, sal nie enige deeglike ondersoek kan verduur nie.  B meen dat die “redes” wat hulle offer, kom uiteindelik van die broer/suster wedywering (Eng. sibling rivalry) die spore wat vroeg in die lewe neergelê is, “redes” wat seker suiwer  persepsie was.  Dié goed wat ons van kindsbeen dra, word selde erken en kan oor jare in ‘n lelike gedrog ontaard, soos in die geval van die familietwis.

As A net vir haarself kan afvra, Hoe gewigtig is my “redes” werklik vir hierdie familietwis?  Kom die “redes” nie dalk van ver af nie?

B sê hy het A vergewe, dat daardie deel van die familie vir hom vervaag en dat hy besef ons moet altyd ons eie heil uitwerk.

Daar was ‘n ander Griek.  Sy naam was Sokrates en hy sê ons, Die lewe wat nie ondersoek word nie, is betekenisloos.  Ek hoor jou.

© Willem

www.binnetoe.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Februarie, 2020

 

Beelde

Ek het kopieë van hierdie beelde voor rekenaars algemeen geword en het nie die bron vir een nie