Daar is twee liede uit die Sestigerjare, onder andere, wat my steeds raak, nie soseer omdat ek nostalgies is nie, maar oor die waardes wat hier geopper word.  Daar sal dié wees wat met ‘n “Maar…” sal regstaan.  Hulle was destyds ook daar.  Hierdie twee liede saam met die ander liede in die musiekspel Hair het so te sê alles bevraagteken teen ‘n agtergrond van lewenslustig eiewaarde.  Ek self keur nie alles goed nie wat uit die historiese jeugbewegings van hierdie dekade gekom het.  Wat wel vir my waardevol is, is blywend.

Die liede is Aquarius en Let the Sunshine in.  In die lirieke sien mens die globale toewens van harmonie, verstandigheid en liefde.  Ja, as dit jou nie pas nie, kyk maar die astrologiese verwysings verby.  As daar van daardie tyd weer sulke liede verskynings gemaak het, staan hulle alleen soos stemme in die woestyn.  Daar was nooit weer die skaal van bevraagtekening nie van die oorlogsbesluite van ‘n regering en ‘n kultuur wat daarmee gepaard gegaan het.

Die dekades daarna fokus meer op geld en tegnologie.  Daar is enkele uitsonderinge, ja, en hulle verdwyn gou in ‘n wêreld van hebsug.  Vir my is dit in die nuwe millennium steurend hoeveel mense gemaklik is met die waardes van vorige diktatorstate.  Oor alles, deur alles, beweeg vrees, amper altyd onerken.  Vir hulle, 55 jaar gelede, “Love will steer the stars.”

Is dit toeval dat die twee liede wat ek noem altwee ‘n sweem droefheid in die melodië het?  Dit is amper asof hulle geweet het die droom van ‘n beter wêreld is uiters fragiel.

© Willem

www.binnetoe.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Januarie, 2020

 

Bron

Ek stel voor dat lesers die liede op You Tube luister, veral dié met lirieke by.

 

Beelde

Pinterest

My tekening