St Antonie van die Egiptiese woestyn het in die vierde eeu van die lewe onttrek en sodoende die naam “Vader van Monnike” opgedoen.  Hy was nie die eerste monnik nie, maar sy lewe doem op oor die lewens van kerksleiers deur die eeue.  Dit is ‘n openbaring om te sien hoe duursaam die verhaal van sy versoekings oor die eeue was.

 

Daar is talle skilderye oor die versoekings van St Antonie — Shongauer, Michelangelo, Bosch, Paul Cezanne, Salvador Dali, om maar ‘n paar te noem.  Flaubert het ‘n roman daaroor geskryf; in 1898 verskyn daar die eerste film deur Georges Mélies oor ‘n gewyde saak daaroor; ‘n opera en in ons tyd, ‘n lied.

‘n Vroeë weergawe van die versoekings noem ‘n hoop goud, maar die klem, lyk dit my, is seksuele teistering.  In die Shongauer gravering, is die demone net geweldadig met ‘n knopkieries terwyl St Antonie dit kalm verduur.  Deurgaans, is die beelde van lyding en weerstand.

Die versoekings van Christus is anders.  Die drie, lyk dit my, stuur op magsug van verskeie soorte af.  As ek dink aan die moderne wêreld, finansiëel en polities, dan is magsug steeds die grootste versoeking. Tog is veel meer van St Antonie se versoekings in die kunste gedoen as met dié van Christus.

Afgesien van magsug, wat is die versoekings van die moderne mens?  Natuurlik word die woord versoeking aan sonde gekoppel en ons doen geleidelik afstand van die begrip van sonde en vervang dit dalk met foutmaak.  Dus, versag die begrip van versoeking.  En dan is daar die sinici, soos, byvoorbeeld, Oscar Wilde wat gesê het die enigste manier om van versoeking ontslae te raak, is om jouself daaraan oor te gee.

Om terug te keer na die duursaamheid van hierdie legende, wat is dit dan wat ons steeds in die verhaal en/of die beelde van die verhaal vind?

© Willem

www.binnetoe.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Januarie, 2020

 

Bronne

Wikipedia :  St Anthony ;  The temptations of St Anthony ;  The Temptations of St Anthony in the visual arts

“The Temptations of St Anthony”, ‘n minuut-en-‘n-half film in 1898 deur Georges Mélies gemaak.  Verwys You Tube.

 

Beelde

Hierdie beelde het ek al van voor rekenaars algemeen geword het.  Ek het glad nie meer die bronne.

Shongauer – Wikipedia

 

Hier is Shongauer se beroemde ets.  Mens moet maar mooi kyk om St Antonie in die middel te sien sit, kalm en rotsvas.  Die demone is duidelik geweldadig.