My goeie vriend van jare (sommer baie), laat ek ons voortdurende debat hier tot papier toevertrou, nie met ‘n wil tot mag nie, maar die agternasit van die glibberige ideaal van helder denke.  Ek wil jou nie oortuig nie;  ek wil jou nie bekeer nie.  Jy ken my:  ek is die stigter van ‘n uitsluitlike eenpersoon-kultus, asook die enigste lid (poging tot grap).  As mense my Binnetoe blog volg, kom hulle agter dat ek darem ‘n paar geestelike waardes het.  (Ek meen ook dat jy nie naby hierdie blogpos sal kom nie.  Verbaas my, toe.)

Nou ja, die ateïsme … wat vir my van ateïste opval, is dat hulle gespanne vir en met woorde regstaan.  Hulle bewustheid is defensief.  Wil ek só lewe?  Ek omhels te maklik die lewe;  ek staan te maklik voor alles met bewondering.  Ek het min mense in my lewe raakgeloop wat vrede van binne straal en ateïste is nie tussen hulle nie.

Ek en jy is al saam deur geestelike musiek (veral 17de-eeuse musiek) ontroer.  Die wetenskaplike in my, die sielkundige, wil weet waarom daardie musiek op daardie manier ons ontroer, musiek wat net oor die jare ryker word.  Dit is vir my te maklik om te sê, Wel, ons hou daarvan.

Jy is vir jou kleinkinders lief.  Wat is die liefde?  Ons kan dit nie weeg, ruik, meet, ens., nie.  Wat is samehangende emosies in ons?  Selfs onsamehangende emosies.  Wat is skepping?  Meer as enige iemand wat ek ken, is jy die versamelaar en die waardeerder van mooi dinge.  Wat is mooigeit?  My punt is, as ons net vlees en been was, wat is die bron van gevoelens?  Veral, die ontsag wat ons asem wegslaan.  En ja, wat is die bron van bewustheid?  Ek meen dat dié atome van ons is meer as atome.

Jy is slimmer as ek, en nie op jou bek geval nie.  Ek het oor die jare maar die « gesonde debat » laat vaar, seker omdat ek vas- en voosgepraat word.  Maar daar was een stelling waaroor ons nie verder woorde gehad het nie.

Dit word algemeen wetenskaplik aanvaar dat hierdie deel van die heelal 13.5 biljoen jaar oud is en het met die Groot Knal ontstaan.  Hier sit ek en jy nou met die bewussyn van ons bewussyn en woorde sorteer.  Ons sou nie hier gewees het as ons nie potensiaal destyds daar was nie.  Daardie potensialiteit is vir my genoeg wetenskaplike bewyse van ‘n geestelike ryk of dimensie.

Kan jy onthou ?  Nadat ek dit vir jou gesê het, my vriend, het ons in stilte gesit.

© Willem

www.binnetoe.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Januarie, 2020

 

Beelde

My grafieke

 

Nota

Laat ek net gou sê dat in die afgelope tyd het my vriend kwytgeraak dat hy dalk ‘n agnostikus eerder as ‘n ateïs is.  Daar is darem vordering.  Ek sal julle op hoogte hou.