In die dertigerjare, dalk vroeër, het die Amerikaanse preker en teoloog Reinhold Niebuhr (1893-1971) die Vredesgebed (“Serenity Prayer”) geformuleer.  Daar was soortgelyke stellings deur die eeue, maar dié keer sou dit sterker posvat. Die Alkoholika Anoniem wat in 1935 deur Bill Wilson, onder andere, gestig is, het dit sentraal geplaas en daarna met die organisasie deur die wêreld versprei.

God, gee my die vrede om dit wat ek nie kan verander nie, te aanvaar,

Die moed om te verander wat ek wel kan verander

En die wysheid om die verskil in te sien.

In die moderne eeu kom dit tot sy reg.  Die formulering word nou in allerlei groepe gebruik, met die probleme van verskillende soorte, vanaf chemiese verslawing tot emosionele verslawing.

Myns insiens is dit insig wat deurdring tot die kern van die grootste omvang van menslike probleme.  Ek kan aan geen ander formulering dink wat so prakties is, met so ‘n wye verwysingsveld, as hierdie woorde nie.

Die woorde impliseer nie dat mens voor probleme sommer tou opgooi nie.  As iets veranderbaar is, vra ons die moed om dit te verander.  Die wysheid is om in sien wat die poging, as dit herhalend word, aan óns doen.  Die poging moet vir ons vrede bring, nie pyn nie.  As die poging vir ons of vir ander seermaak, dan vra ons die wysheid om in te sien dat ons ons kop teen ‘n klip stamp.

Myns insiens, het die verslawing te doen met die self-beeld wat die “stryd gewonne gegee het” in die poging om iets te verander wat nie gaan verander nie.  Die verslaafde voel vernederd, sien homself as ‘n mislukking;  hy neem wraak op homself, op ander, op die lewe, om verslaaf te raak.  Sy verslawing bied ‘n tydelike troos en word mettertyd ‘n probleem op sigself.  Ja, dit is meer kompleks, ek besef dit.  Ek offer ‘n paar gedagtes.

Soos die jare verbygaan en die mens steeds met verslawing van een of ander soort worstel, sal hierdie formulering net ‘n groter rol speel.

Willem

www.binnetoe.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Desember, 2019

 

Bronne

Wikipedia Alcoholics Anonymous

Wikipedia The Serenity Prayer

 

Beelde

 Twee beelde deur Paul Klee

Laaste beeld – Kandinsky

 

Opgedra aan Jan M