Ons was al almal beraders in ons tyd, formeel of informeel, ekstensief of skrams.  Seker omdat ek in skole was, het die rol van berader vir my interessant voorgekom.  Ek het egter gou agtergekom dat dit nooit eenvoudig is nie.

Vir etlike maande het ek beradings opleiding ondergaan.  Ek noem dit maar vir dié wat belangstel :  die handboeke wat ons gehad het, was dik — mens sal lewenslank daaraan leer seker omdat die mens ‘n komplekse wese is.  Ek het vir ‘n paar jaar sandspel beofen wat ‘n vorm van berading is.  (Besonderhede aan einde)

Dit is dus met respek en vir my ‘n plesier wat ek die berader noem wat ek onlangs in my behandeling in die kankereenheid leer ken het.

Toe ek aanmeld, is een van die eerste dinge wat my getref het, dat  hulle ‘n berader het.  Ek het gewonder of hulle ‘n berader in die kardiale eenheid het.

Ek skryf hierdie inset om hulde aan dié berader te bring.  Sy verkies dat ek nie haar naam hier noem nie.  Die eerste keer wat ek haar ontmoet het, het ek besef dat dié mens buitegewone gawes met berading het.  As ek dink aan my eie situasie met my vroeë diagnose en my goeie prognose dan is daar teoreties min vir my om oor angstig te voel.  Kortom, ‘n berader in dié situasie het veel belangriker werk as om vir my berading te gee.  Tog nie.  Hulle besef ten volle, soos ek in die situasie agtergekom het, dat ons almal dra ‘n diepe angs, ‘n rou vrees, vir (die woord) kanker van ons vroegste jare af, dat almal — die terminale gevalle,  die oorlewendes — het berading nodig.

In die weke wat ek bestraling ontvang het, die maande, ‘n nuwe vorm van eindeloosheid, het ek gevoel dat my fisiese toestand (hoe die bestraling se newe-effekte vertoon) asook my innerlike toestand, met watter toonaard ek praat, my liggaamstaal, fyn dopgehou word.  Ek is op ‘n kol aangemoedig om iets vir my depressie, my oorweldigende golwe van emosie, te neem, maar, breebors, het ek geweier.

Deur alles was die berader daar, met haar belangstelling in hoe ek, alleen in my woonstel, myself besig hou om die tyd om te kry.  Ek sal dit haar deernis noem, ‘n deernis wat nooit in ‘n valse sentimentaliteit ontaard nie.  Sy dra kennis van die op-en-af van  pasiënte.  Sy onthou wat jy laas maand vir haar gesê het.  Sy pas dit met ‘n professionele houding toe en met genesende liefde.  Wat ‘n voorreg was dit om dié mens te leer ken.  Hoe sou hierdie stresvolle maande uitgesien het as hulle nie ‘n berader gehad het nie en veral een soos sy?

Om te oorweeg aan wie sy berading gee, het my tot denke gestem.  Ek het jare gelede gemeen ek sal doodsbegeleiding wou doen en toe besef ek dat ek net nie oor die grootgeestigheid beskik nie.

Met hartlike dank, my berader.  Ek vertrek oor enkele dae na ‘n ander land toe, maar my bewondering vir jou, my dankbaarheid, sal by my bly.

(c)  Willem

www.binnetoe.wordpress.com

Bridgewater, Somerset-Wes

Desember, 2019

Beelde

Bridget Riley

Bron verloor

Jim Zuckerman

Bron verloor

Kristina A. Muhic

 

 

Vir dié wat belangstel:  Verwys na my boek op Amazon.com Books onder Will van der Walt.  Titel:  How to Play the Sand