Ek deel ‘n persoonlike ervaring wat my lewe sopas verander het.  Ek meen dit is nie so uitsonderlik nie en dat ander mans ook hierdie pad loop.  Dit is net:  weereens, praat ons nie daaroor nie; die woord privaat is wat ons agter skuil.  Maar in die agt weke, die duur van my behandeling, ontmoet ek ‘n aantal ander mans, almal ouer as ek, wat makliker hulle gevoelens oor die saak kon deel — die bestraling van prostaat kanker.

Na ‘n 15-jaar geskiedenis met my prostaat dokter, ‘n dokter met hoë aansien, word die eerste veranderinge, veral in my bloedtoetse (die PSA), bespeur en ek word verplaas na die lokale kliniek in Somerset-Wes waar ek bly.  Ek ontdek ‘n interessante verskynsel:  die kankereenhede (N1 Stad-hospitaal, Stellenbosch Kliniek, Cancercare in Somerset-Wes) is elkeen uitsluitlik deur vrouens — sal ek dit sê? — beman.  Die personeel wat dalk nie veel daaraan gedink het nie, laat my weet dat dit die neiging is.  Toe ek dit vir my mede-manspasiënte uitwys, het hulle gefrons en geglimlag:  vrouens kan dit seker beter doen.  Dit is ‘n interessante oefening om te sê waarom, om te sê waarom mans hulle nie gemaklik hiermee voel nie.

 

Ek meen dit is waar om te sê dat elkeen van ons grootword met ‘n vrees vir (die woord) kanker.  Van my kinderjare af was dit ‘n doodsvonnis.  My agt weke het my weereens met bewondering voor moderne tegnologie gestaan.  My vroeë diagnose en goeie prognose as gevolg van die jongste stand bestralingstoestelling is groot troos vir my:  hulle het my van ‘n goeie lewensverwagting verseker.  Dan ook, is ek redelik jonk in vergelyking met ander mans.  Ek deel die dinge as aanmoediging vir enige man.  Om breebors ondersoeke uit te stel en uit te stel, verminder jou kanse, om die waarheid te sê.

Die agt weke, alleen in my woonstel, was, soos my vrou (in ‘n ander halfronde) dit genoem het, ‘n soort vagevuur.  Geleidelik het my gewone gesondheid verander en in die laaste drie weke het my eetlus verdwyn.  Dit is nie die regte plek om die ander newe-effekte te bespreek nie!

My vrou se oproepe was die fokuspunt vir die ure wat net nie wou endkry nie.  By die kliniek het ek die eerste dag ‘n afspraak met die berader gehad.  Ek het gewonder of hulle in die kardiale eenheid ‘n berader gehad het.  Deur die agt weke was sy my steunpilaar, ‘n mens met insig, professionele benadering en met deernis.  Hieroor sal ek in die volgende inset meer se.  Daar was tyd vir my selfs in die verband van terminale gevalle.

Die agt weke het my verander.  Ek het ‘n voller en dieper waardering vir die lewe, vir my lewe, ontwikkel.  Ek het verder die liefde vir my vrou verken en besef dat dié wye landskap nog ver voor my strek.  Ek het my ganse lewe in oënskou geneem — my suksesse, my mislukkings, die droefenis, die vreugde, die mense wat my seergemaak het, die mense wat ek seergemaak het, die mense vir wie ek lief is.  Waarom dan, is dit altyd onder omstandighede soos dié wat ons tot denke gestem is?

Willem

www.binnetoe.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Desember, 2019

 

Ek is vir bespreking en inligting oop vir enige iemand wat meer oor die saak wil weet.

 

Beelde

1e beeld – bron verloor

2de beeld – my foto (stralerstroom)

3de beeld – Kunswerk – Olivier Dassault 1989

4de beeld – my foto

5de beeld – Russ Tamblyn in “West Side Story”

 

Opgedra aan die personeel van Cancercare, Arun Place, Somerset-Wes

 

Naskrif  31.1.2020

Ek sien vanaand ‘n program op Franse televisie (“Stars à nu”) wat met die eerste opslag lyk soos iets simpel, maar toe sien ek dat die groep mans, nie een professionele dansers nie, maar tog in die media bekend, het ingestem om ‘n tipe disco-dans program te doen om die publiek se aandag, mans veral, op die nood van prostaat kankertoetsing te vestig.   Elkeen van hulle het blykbaar al bestraling ondergaan.  Die program was gewaagd, soos net die Franse dit kan doen en het my diep ontroer.  Ek wonder net:  het ons al, sou ons, in Suid-Afrika so iets doen?