Ek is nie ‘n kunsterpeut nie.  Ek wil net baie graag verstaan wat in my binneste aangaan, en dalk vir ander in die opsig hand bysit.

Ek het onlangs ‘n manier ontdek om woede en spyt wat nog in my skuil, op te los.  Dit mag ook wees dat ek alternatiewe wyses van selfkennis opgediep het wat ek nie genoeg aandag aan gee nie.  Tekeninge is wat my dit laat sien.

Wat dink jy hieroor?

  1. Neem papier en met ‘n potlood slaan kriskras lyne daaroor.  Kyk daarna.  Sien jy iets in die chaos van die strepe, iets wat duidelik kan word.  Die trekke van ‘n gesig, dalk?  ‘n Man wat hardloop?

  1. Beklemtoon enige vorm wat jy sien.  Maak sekere lyne donker.
  2. Vee dood die lyne wat nie bydra aan wat jy begin sien nie, wat jy op klem wil lê.
  3. Voeg lyne by wat die beeld voltooi.  Kleur ‘n bietjie in.   Maak ‘n beeld hiervan.
  • Kyk na die beeld.  Daar is baie dinge wat jy hiermee kan doen.  Die eerste, sê “Welgedaan!”  Moontlikhede volg:
  • Skryf ‘n beduidende onderskrif.
  • As dit ‘n mens is, ‘n gesig, skryf wat daardie persoon sou sê of dink of voel.
  • Verbeel ‘n verband vir die onderskrif in punt (b). Wat het vooraf gebeur?  Wat sal hierna gebeur?

Hierdie verhaal wat jy spontaan geskep het, is openbarend. Wat jy hier doen, is nie strenge self-analise nie.  Dis ‘n speelse manier om aandag aan jou binneste te gee.

Hier is een van my prosesse:

Ek het eers ‘n woedende gesig gesoek, ‘n gesig met bitter spyt, dalk.  Wat ek gevind het, wat ek op klemgelê het en geskep het, was nie ‘n woedende gesig nie.  Kyk na die vierde stadium.  Daardie gesig is onseker, dink ek.  Rakelings spyt, dalk, maar meer onseker.

Wat sê dit?  Dalk dat my woede en spyt se tyd verby is, en daarmee die magsgevoel wat ek deur hulle gekry het.  Verbasend, staan ek nader aan my eie genesing as wat ek besef het.  Dit is goeie nuus.

Ek het hierdie proses al ‘n heel paar keer gedoen.  Wat dit openbaar, is dat daar ander emosies in my is, nie net woede en spyt nie.  Dit is ‘n slagoffer wat woede en spyt koester en nie iets anders wil erken nie.  Om daardie twee  wel te koester, gee hulle vals status.  Die tekeningproses sê dat hulle nie sentraal in my is nie en dit is tyd dat ek dit sien.  Met die tekeninge kom ‘n breër en ‘n wyser perspektief op sake wat nog in my skuil.  Om dit te sien, is om te genees.

Ek eindig met die tweé streeptekeninge.  Die eerste was bedoel as vulkaniese woede.  Nogal suksesvol. Die tweede, ook.  Besluit self wat jy in hierdie gelate sien.  Die tweede, byvoorbeeld, is eerder droefheid, dalk teleurstelling.  Staan eenkant toe, Woede en Spyt.  Daar is veel meer in my aan die gang.  Ek is veel meer werd.

Willem

Oktober, 2019

Beelde

My tekeninge

 

Advertisements