Gestalte en gier 7:  Stof

                                                             “Aanskou stof en word die geheim van die heelal wys.”

Dié woorde is deur ‘n filosoof-ateïs van die 30erjare geuiter.  Heldhaftig, nè, om so die Niks van Alles in die oog te kyk.  Maar in die 40erjare is die atoom gesplete en stof sien toe heeltemal anders uit.  Die dag verdonker om die gelaat van die filosoof.  In die klamkoue oggend beweeg ‘n houtkapper na sy klein hut in die woud.  Hy maak die deur oop.  Hy vind hom in ‘n katedraal wat voortdurend opwaarts rys en hy hoor ‘n jubelende gesang.

 

Gestalte en gier 8:  Duik

 

Laat my die oseaan induik

Gee my vlerke vir die konstellasies van visse aan my sy

Laat ek hulle groet, die wesens van wêrelde anders

Gee my die stilte

Van die onderwater nag

Die blou-groen heelal

Gestalte en gier 9:  Die wind

Hierdie man loop teen die wind.  Hy kan wind nie sien nie, maar, soos iets in die hart, kan hy dit voel.  Tog waai dit.  Loop ander teen die wind?  Is dit ‘n werklikheid, hierdie wind, dit wat jy nie kan sien nie?  Hoe dan sal die aarde sonder wind wees?

Ag, dêmmit, daar waai my hoed weg.

Willem

Oktober, 2019

Beelde

My tekeninge 

 

Advertisements