Die eerste in ‘n reeks van twee

Ek probeer die newel gryp, maar ek mis.

My dank aan die woordspeler van Indiana Hills Community Board vir die opsom van wat twissery tussen pare so moeilik maak.

Hierdie twissery word dikwels geken aan blaam en blaam soek die bron van die probleem elders as tuis, dws by jou.  Die ou manier van twissery, die “mis” wat ek na gryp, is om bronne elders as in eie boesem te soek.

Maar ander maak jou kwaad, sal jy dalk sê.  Ja, ek weet dat die twissery soms ‘n reaksie is.  Maar dié reaksie, die vorm wat dit aanneem, die tydsduur, mag wel deur dit wat in my aan die gang is, gevoer word.  In party gevalle het dit niks met die huidige twissery te doen nie.  Ek meen die intensiteit van die twissery dui dalk dat die oorsprong van gevoelens kompleks is.  Dit kan deel wees van sake wat lank gelede begrawe is en nou in die wit hitte van hierdie oomblik kop uitsteek.  Wanneer die bitterheid in die geredekawel afneem, is dit tyd om dit te probeer verstaan.

Ja, sal jy my dalk sê, dis alles teorie, dié.  Dus, sal ons onsself in ons ongelukkigheid verheug?  Of iets aandurf?  Die intensiteit van die interaksie, soos ek reeds gesê het, is die wenk.  Begin met jou diepste vrese.  Hulle is gewoonlik êrens in die proses.  En dan die oomblik van openbaring —  “Ek meen dat ek ‘n ou vrees vir oorheersing koester.”  En as gevolg van so ‘n insig, is die argument tussen jou en jou geliefde ‘n magsstryd, al lyk dit soos iets anders?   Waarvoor is ek in my binneste angstig?  Is dit op die ou einde ‘n swakte in my selfbeeld?  En die geleentheid van dié geredekawel is dalk die oomblik wat al jare wag om dié ding op te los.

Maar ek is rég en jy is verkéérd.  Dit mag oppervlakkig waar wees, en tog is daar ‘n vulkaan van gevoel tussen ons.  Met ander woorde, die geredekawel gaan oor veel meer as die argument.  Kom ons probeer ‘n ander benadering.

Ek maak my kwesbaar en ek sê, “Ek dink ek het vrees dat jy my sal verneder.”  As dié kwesbaarheid dan, nie wedersyds is nie, is daar min kans vir versoening.  “Ek hoor wat jy oor vernedering sê.  Ek eer dit. Jy’s dapper. En ons moet ons by die sáák beperk, eerder as om mekaar sleg te sê.  Ons is intelligent genoeg om ons verskille te verstaan en die middelpaadjie te vind.”

Nou ja, die teorie …  My partenaire (Help my tog:  wat is die Afrikaanse woord?)  beskuldig my somtyds, ironies, dat ek Germaans is (selfs Neanderthal), terwyl sy Lateins is:  ek krop op;  sy laat waai.  Dis ‘n grap, natuurlik.  Die inhoud van ons bloed kan nie oor ons temperamentele verskille rekenskap gee nie.  In elk geval, al is sy Frans, was haar pa ‘n Australianer en ek het Franse voorsate, onder andere.  Maar dit is die beginsel om die huidige verskil tussen ons, wat al hoe meer bitter word, teen ‘n breër agtergrond te sien. Daardie “temperament”-storie is seker ‘n masker vir ander dinge.

Wat bring ek na hierdie geredekawel vanuit my geskiedenis?  Dié vraag, vir die onthalwe van ons liefde, moet gevra word.  Al voel dit asof ek die newel gryp, en mis.

Willem

Augustus, 2019

Beelde

My tekeninge

My foto

 

Beeldhouwerk (“Voëls van Hout”), Kunsmuseum, Nice.

Advertisements