DIE VYAND

Die vyand is nie daarbuite

Hy sit hier in jou stoel

Dis hy wat praat met jou stem

Dis hy wat binne woel

  Lawe sy nyd met omgee

  Laat sy pyn verdwyn

Die vyand is nie daarbuite

Hy sit hier in jou brein

DIE KELDER

Wat het jy in die daai kelder?

Wat steek jy daar weg?

Wat is in daai ysterboks?

Wat ruik so sleg?

  Jy staan wag by die trap

  Altyd reg met ‘n grap

Maar as ek vra wat het jy daar

Is dit terugkap.

 

Bring ‘n hamer.  Bring ‘n saag.

Gee die woord, ek sal waag

Donder die dêm deksel af

Ons sal die goed verjaag

   Dis net vlêrmuise waar jy kyk

   Heel onder lê ‘n oop-oog-lyk

Haal uit!  Haal uit!  Dreineer

Die rioolslyk.

 

Nou is die kelder sprankel skoon

Stof af daai goue kroon

Jou oë die is weer helder

Jy’s ‘n nuwe persoon

   Vlêrmuise en die lyk is weg

   Aan hulle was jy so geheg

Voel hoe juig die lewe

Net reg!

 

LIED

Die tralies van my siel is die melkweg

Die mure, planete wat draai

Die boeie om my skouers en my bene

Is komete wat swaai

  My beknoptheid is die winde wat oor vlaktes vee

  Die dae wat ek aftel, is wat oneindigheid my gee

En ek sing in my kettings

Soos die see

(Finale beeld ontleen van Dylan Thomas)

 

Willem

(c) RotsWolk-Uitgewers

Augustus, 2019 

Beelde

My grafieke

My tekening

 

“Wat probeer die ou doen?”

 

 

 

 

Advertisements