Ek het al gewonder waarom mense, ek self, geïrriteerd raak met dié wat ons Mamma se soet kindjie en heilige boontjie noem.  Dit gaan oor die dogtertjie wat altyd goed is, haar gedra en is vir haar ma die ideale kind.  En dit krap, veral wanneer ons, as kinders, gesê word om soos daardie kind te wees.  En dan is dit ‘n suster or ‘n broer.  Daar is ‘n maatstaf vir goedwees, word vir ons gesê, hier, voor ons oë.  Nou het ons nie ‘n verskoning om rusteloos, stout of ongehoorsaam te wees nie.

Ek meen dat ons hier na die skadukant van wat goed is, kyk.  Ek is nie te vinde vir die idee dat “perfekte” kinders noodwendig grootword om gesonde, gebalanseerde mense te word.  Ek weet van voorbeelde van die teenoorgestelde.

Ek snap dat ‘n oorwerkte, uitgeputte moeder wil so graag hê dat ‘n kind net luister sonder om te protesteer of voete te sleep.  En as ‘n kind tog net goeters wil uitlos en nie die huis omkeer nie.  Die “perfekte” kind beteken dat kindgrootmaak maklik word.  As ander kinders (dis nou óns) só kon wees … ag, dis seker net ‘n droom.

Ek het eenmaal ‘n ondergrawende opinie gehoor.  Dit krap steeds, maar ek moet dit respekteer.  Dit is dié:  die eerste keer wat ‘n kind bewustelik ‘n leuen vir sy ouers vertel, sien hy sy identiteit as apart van hulle aan — ‘n uiters belangrike spil waarom die kind se ontwikkelling draai.  Daar is wel meer positiewe maniere om dié te bewerkstellig, maar die funksie van die leuen in die kind se lewe kan nie ontken word nie.

Dit lyk vir my dat perfeksionisme, tyn spyte van goeie bedoelings, kan ook skade doen.  Ek sê nie mens moet nie jou bes probeer nie.  Ek skop teen wanneer mens se bes nie goed genoeg is nie.  Ek skop teen doelwitte en ideale wat voorkeur oor mense kry.  Ek vra om empatie, veral vir kinders, terwyl hulle stryd voer om die take van die lewe te bemeester.  Ek voel self die steek van perfeksionisme elke keer wat rekenaar-deskundiges hulle irritasie vir my onbevoegdheid ontbloot.

Vir my is daar ‘n bange ego in perfeksionisme betrokke, ‘n diepe behoefte aan mag, en prys en status.  Ek meen ook dat, soos die tegnologie meer en meer ons lewens binnevaar, so meet ons onsself aan die presiesheid van ons masjiene.  Ons is ongeduldig met enige iets wat nie met die druk van ‘n vingerpunt opgelos of opgeroep word nie.

Perfeksioniste vertel ons dat hulle die beste uit mense kry, maar hulle sê nie hoeveel seermaak en vernedering daar met die minder bekwames in die proses is nie.  Daar is min verdraagsaamheid of begrip vir dié onder hulle terwyl hulle tevrede is met die status wat hulle beklee.

Ek doen nie ‘n beroep vir die daling van standaarde nie.  Ek sê net laat mense hulle eie motivering ontwikkel met die standaarde wat daargestel is.  As jy self perfek wil wees, doe zo voort.  Anders, laat mense self besluit.

Willem

Augustus, 2019

Beelde

Bron verloor

Strada-tydskrif

Janos Kass, 1977

Ben Nicholson, 1935

 

Advertisements